Kruispad
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250 (BTW ingesluit)
Verskyningsdatum: 2026
Aantal bladsye: 437
ISBN: 978-1-0492-6854-5
Kruispad handel oor die wel en wee van ’n jong plattelandse vrou. Dit werp lig op die aangenome kind wat in ’n oënskynlik liefdevolle huis ingeneem word, waar die gemeenskap vanselfsprekend aanvaar dat sulke kinders dankbaar moet wees vir die huisvesting en liefde wat hulle ontvang van hul nuwe,“onbaatsugtige” ouers. Drien se storie verpersoonlik die lewensreis van soveel kinders … veral meisies wat aan seksuele molestering, emosionele aftakeling en fisieke mishandeling onderwerp word, en die uitwerking daarvan op hul emosionele, psigiese en geestelike ontwikkeling. Sielsgebrokenheid, vrese, wantroue en rebellie van die hoofkarakter teenoor mens en God word deel van haar menswees.
Susan Ongansie
Susan Ongansie is ’n ou-Beaufort-Wester wat haar as grondslagopvoeder bekwaam het, waarna sy kinderstoriese binne die Suid-Afrikaanse konteks vir onderrigdoeleindes begin skryf het. Sy sluit aan by die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) waar sy die geleentheid gebied word om skrywerswerkswinkels by te woon en as lid by die Stellenbosse Woordfees, die Franschhoek Literêre Fees en die !Garob-fees te Oudtshoorn op te tree. In 2015 vestig sy haar in Oudtshoorn en sluit aan by die Klein-Karoo Skryfforum, en in 2017 verskyn haar debuutkinderboek, Kattekwaad, by Lapa. Ook by hierdie uitgewer verskyn van haar stories in die bundels Blinkertjies in Pa se baard (2022) en As varke kon vlieg (2025). Haar Afrikaans-Griekwa-gedig, “diese wille koowit”, word opgeneem in die pandemie-digbundel Maskers en mure (Turksvy, 2021). Dit is ook in Oudtshoorn waar die skryf en afronding van Kruispad geskied het.
