Barrett se ruimtereis
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R220 (BTW ingesluit)
Verskyningsdatum: 2026
Aantal bladsye: 56
ISBN: 978-1-0665794-7-1
Vir Barrett is Ouma en Oupa se huis vir hom die heel lekkerste kuierplek. Dis omdat Ouma rakke en rakke vol boeke het waaruit sy vir hom ruimtestories lees en omdat hy en Oupa saans op die stoep na die maan en sterre sit en kyk. Barrett se grootste wens is om eendag ’n ruimtevaarder te word. Jy kan énigiets doen wat jy wil, leer Ouma en Oupa hom… en toe Barrett weer sy oë uitvee, staan hy op die vaal, klipperige maangrond waar daar ’n groot verrassing op hom wag.
Chareldine van der Merwe
Chareldine van der Merwe glo elke kind verdien die geleentheid om deur ’n boek ’n nuwe wêreld te ontdek. Sy is projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans en haar liefde vir lees en leer word weerspieël in haar werk wat daarop gerig is om kinders te leer lees en ’n liefde vir stories by hulle te kweek. Sy bied gereeld werkswinkels aan oor voorlees, leesbegrip en leeruitdagings, die waarde van boeke en ’n goeie taalbegrip. Sy het haar eie leessentrum om kinders met lees- en leeruitdagings te help, is ’n motiveringspreker by skole en tree gereeld op as beoordelaar vir taal- en leesontwikkelingsprojekte. Sy en haar eggenoot, Edward, woon in Kylemore naby Stellenbosch en het twee volwasse kinders en twee kleinseuns, Barrett en Luka. Chareldine is passievol oor Afrikaans in al sy variëteite. In 2022 ontvang sy die Kokertoekenning vir bemagtiging deur Afrikaans van die Afrikaanse Taalraad vir haar werk by die ATKV en in haar gemeenskap. In 2024 is sy deur Afrikaans 100 benoem as een van die Top-10 Vroue met ’n Impak óp Afrikaans, deur Afrikaans. As kinderboekskrywer skep sy lekkerleesstories wat kinders se verbeelding prikkel en waardevolle lewenslesse leer. Met haar passie, energie en liefde vir kinders en Afrikaans is Chareldine ’n toegewyde voorstander van leesbevordering en glo sy dat ons kinders deur stories en boeke nie net leer lees nie, maar ook leer droom, dink en groei.
