Laatliefde
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R280 (BTW ingesluit)
Verskyningsdatum: 2026
Aantal bladsye: 72
ISBN: 978-1-0483-2140-1
Hoe hy by die skryf van gedigte uitgekom het, verstaan hy steeds nie, sê Carl Meyer. Dis dalk eerder ’n geval van woorde in die vorm van digkuns wat hóm gevind het. Met Laatliefde wou hy sy kreatiwiteit ’n stap verder neem … dit is om woord en beeld te verenig om sy gevoelens en ervarings nóg sterker uit te beeld. Daarom het hy die fotograaf Kate Roothman gevra om foto’s te neem van alles wat hom na aan die hart lê – die natuur, kunswerke, diere, die Kaap. Hierdie digbundel is ’n kombinasie van alles wat vir die digter in sy latere lewe plesier gee.
Carl Meyer
Carl Meyer het grootgeword onder die koppie in Hankey waar daar ’n gedenkteken vir die Khoi-ikoon Sara Baartman opgerig is. Hy was in Humansdorp op skool, het later verpligte militêre diens aan die Leërgimnasium op Heidelberg gedoen en ’n BA-graad aan die Universiteit van Port Elizabeth verwerf, met hoofvakke Afrikaans-Nederlands, Engels en Geskiedenis. In 1987 het hy by Die Burger in Kaapstad aangesluit en in 2001 vroeg afgetree as assistentredakteur. Hy en Igna het drie dogters, Liesl, Ilke en Carlinn. Almal woon in Kampsbaai. Kate Roothman is ’n aktrise, professionele fotograaf, danser en model. Sy het op ’n plaas naby Sannieshof in Noordwes grootgeword. Nadat sy in die uitvoerende kunste gestudeer het, het sy lank die rol van Nicolette in die gewilde sepie Binnelanders vertolk. Kate het verskeie rolprente op haar kerfstok. Sy het Binnelanders intussen verlaat om op nuwe projekte te konsentreer. Carl het haar gevra om die foto’s vir sy digbundel te neem.
