Select Page

die jaar toe pa …

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Tweede uitgawe, eerste druk: 2022, 94 bl.
ISBN 978-0-6397-2419-5

Hannes Visser het ’n eie stem en ’n eie storie. In hierdie bundel word ’n jaar in die lewe van ’n tienjarige kind uit ’n arm, disfunksionele gesin in kort, gestroopte verse beskryf. Visser se gedigte word bevolk deur uiteenlopende karakters wat telkens weer hul verskyning maak. ’n Mens sou dit met reg ’n novelle-in-versvorm kon noem. Die gedigte is veral treffend vanweë die onemosionele trant waarin selfs die gruwelikste gebeure vertel word. Die nugter styl is die noodwendige gevolg van die kind se onbegrip van wat om hom in die grootmenswêreld afspeel. Hierdie botsing van perspektiewe ontlok op ’n subtiele wyse by die leser ontroering en soms ook ’n glimlag. In die heruitgawe van hierdie gewilde bundel het die digter ’n tweede afdeling met nege verse bygevoeg waarin die kinderperspektief van die voorafgaande verse aangevul word met die terugkyk van die volwasse digter. Hy herbesoek die dood van sy ouers, asook die straat en huis waar hy grootgeword het. – Daniel Hugo

Oor Hannes Visser

Hannes Visser was ongeveer twintig jaar lank (met onderbrekings om ander avonture te beleef) in die onderwys betrokke en was vir nege jaar ‘n skoolhoof. Daarna was hy redakteur van ’n gemeenskapskoerant, maar het ná tien jaar besluit om hom voltyds op skryfwerk toe te spits. ’n Aantal van sy kortverhale en gedigte het reeds in nasionale kompetisies toekennings ontvang. Hy is ’n geakkrediteerde lewensafrigter, tree op as geleentheidspreker en beoefen beeldende kuns, houtwerk en pottebakkery as stokperdjies. Hy en sy vrou, Manda, woon op Oudtshoorn. Hulle het twee getroude kinders, Tanya en Anton.