Select Page

Zani-Beer en Klein-Maggie se seevakansie

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Eerste uitgawe, eerste druk 2023. 31 bl.
Prys: R270
ISBN: 978-0-7961-3696-1

 

Zani-beer en Klein-Maggie se seevakansie is die derde in die Zani-beer-kinderboekreeks, ná die gewilde Die wysheid van Zanibeer (2022) en Zani-beer en Klein-Maggie kuier in die wildtuin (2023). Dié keer kuier Zani, ’n wollerige troetelbeertjie, en Klein-Maggie, Boetie-Koen, Mamma-Maggie en Pappa-Dirk saam met hul familie in dié gesin se strandhuis. Tydens hul besoek aan die kus sien hulle die wonderlikste diere … robbe, dolfyne, pelikane en pikkewyne in die see, en pylsterte, haaie en seeskilpaaie in die akwarium. Hulle ry saam op Kaptein Kobus se boot, vang vis, maak die strand skoon, leer van vuurtorings en laat vlieërs vlieg. Zani is nie sommer ’n gewone speelgoedbeer nie; sy is Klein-Maggie se heel beste maatjie wat haar meer oor die wonder van oseane en van die natuurlewe onderwater leer.

Oor Irene Nel

Irene Nel is ’n gebore Namibiër wat jare lank in Suid Afrika gewoon het, voordat sy uiteindelik in 2001 permanent teruggetrek het na haar geboorteland waar sy die afgelope veertien jaar ’n onderwyseres is. Naas geloof is haar familie haar grootste passie. Haar man en beste vriend, Kallie, haar twee pragtige dogters, Marianne en Renette, haar twee wonderlike skoonseuns, Johan en Gerhard, en haar kleinkind, Xané, is die vreugde van haar lewe. Sy is op haar gelukkigste wanneer hulle as gesin saamkuier of wanneer sy en haar eggenoot in Hentiesbaai langs die see vis probeer vang. Die wysheid van Zani-beer, Irene se bekroonde debuutkinderboek, het haar skryfloopbaan ingelui. 

Ronéll Lareman (illustrasies)
Ronéll Lareman het ’n BA in Beeldende Kunste (Hons) in 1986 en ’n HOD in 1987 aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Daarna raak sy by buitengewone onderwys vir gestremdes betrokke en werk by die RGN as grafiese ontwerper. In 1991 verhuis sy na Oudtshoorn waar sy haar eie onderneming bedryf wat in grafiese ontwerp, illustrasie, digitale ontwerp

en media spesialiseer. In haar vrye tyd bied sy kunsklasse vir kinders aan. Sy is een van die pioniers van die skep, ontwikkeling en totstandkoming van die vak Ontwerp vir die Onderwysdepartement.