Waar daar eens ‘n see was
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R260 (BTW ingesluit)
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 70 bl
ISBN: 978-1-83492-811-1
op hierdie plek hier waar ek nou staan
tussen bitterbosblomme en stapels klip waarlangs
’n skaaphond waak oor kaalgeskeerde skape
was daar eens ’n see
ek weet dit want onder my voete
is die fossiel van ’n vis en twee verdrinkte vroue
teen die heuwel is oorblyfsels van hul huis
gebou met skulp en klei
en daar is ’n waterigheid in die verte
soos sweet op jou vel
toe jy nog bokke gejag het saam met !kweiten-ta-//ken
oor hierdie karooveld
waar daar eens ’n see was
Jennifer Pape
Jennifer Pape is gebore op Hennenman in die Vrystaat. Sy verwerf ’n BSc-honneurs in Geologie aan die UOVS en later ’n MSc in Geochemie by Wits. Sy skryf sedert haar studentejare gedigte, maar begin eers ernstig dig nadat sy die Stomme Jonge-digklub in Stellenbosch gestig het. Sy publiseer ’n handvol gedigte in Ons Klyntji en behaal die tweede plek in die Afrikaanse afdeling van die 2022-Avbobpoësiekompetisie. Sy is die webontwerper vir New Contrast Literary Magazine, en versamel graag boeke en plastiekdinosourusse. Jenny bly in Fisherhaven saam met haar lewensmaat, Susan, en kunstenaardogter, Maya.
