Select Page

Dharma-dwaas in Doodloopstraat

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R380 (BTW ingesluit)

Verskyningsdatum: 2026
Aantal bladsye: 437
ISBN: 978-1-0492-7441-6

 

Dharma-dwaas in Doodloopstraat is die tweede roman in Sjaka Septembir se beplande trilogie oor die karakter Biko April. Dit volg die geestige, desperate en romanties-roekelose pad van hierdie Don Quixote-kryger en zen-dwaas wat met liefde, erotiek en kreatiwiteit die wêreld se wrede werklikheid kop eerste aanpak. Drie dae voor sy huur betaal moet word, staan hy sonder plan op die rand van niks. Terwyl hy probeer oorleef as kunstenaar in ’n Kaapstad wat dreig om hom te verpletter, kruis sy pad met dié van Naziem, ’n jong man vir wie geweld en moord alledaags geword het. Maar Biko se ware stryd is in sy romantiese verhoudings – die idealisering, die verlange, die romantiese dwaasheid – wat hom konstant
swaai tussen ekstase en vernietiging, tussen liefde en die afgrond. In ’n wêreld waar hoop broos is en chaos groei, word kuns sy laaste toevlug. Hierdie roman is ’n soeke na betekenis, na vryheid – en na die moontlikheid dat liefde selfs in die donker kan bly voortbestaan.

Sjaka S. September

Sjaka S. Septembir is ’n jakkals van vele streke – skrywer, teatermaker en hanswors, met ’n PhD in wording. Hy is die outeur van Die bardo van Biko April, en Dharma-dwaas in Doodloopstraat is sy tweede roman. Vir die ontwikkeling van sy derde roman het hy ’n Hiemstra Trust-skryfverblyf ontvang. Hy het drie dekades se teater skep agter die blad, is ’n gepubliseerde dramaturg, en sy gedigte verskyn in Ons Klyntji, New Contrast, Maskers en mure (Turksvy, 2021), asook soms in Die Burger en Rapport en op Versindaba. Hy publiseer ook gereeld essays en besinnings aanlyn. Wanneer hy nie skryf nie, lei hy werkswinkels in beliggaamde kreatiwiteit – of hy surf. Hy is ’n digter met die hart van ’n nar.