Select Page

‘n Rand vir ‘n tand

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R220
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 46 bl
ISBN: 978-1-0370-41983

Xavier is nege en sy boetie, Kendrick, ses. Hulle is beste maats en hou daarvan om lekker saam te speel en nuwe dinge te ontdek. Mamma en Pappa het hulle geleer dat boeties altyd saamstaan en mekaar help en ondersteun. Toe groot teenspoed Kendrick tref, is dit presies wat nie net sy ouer broer doen nie, maar ook sy pappa en ouma. Hulle wys hom dat dit beter is om altyd kalm te bly wanneer dinge verkeerd loop. Dalk lê die oplossing vir sy probleem rég voor hom … al wat hy moet doen, is koelkop bly en kophou. 

Oor Chareldine van der Merwe

Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans, woon in Kylemore, ’n pragtige dorpie naby Stellenbosch. Haar liefde vir lees en leer word weerspieël in haar werk wat daarop gerig is om kinders te leer lees en ’n liefde vir stories by hulle te kweek. Sy bied gereeld werkswinkels aan oor voorlees, leesbegrip en leeruitdagings, die waarde van boeke en die belangrikheid van ’n goeie taalbegrip. Sy het haar eie leessentrum in haar dorp begin om kinders met lees- en leeruitdagings te help, is ’n motiveringspreker by skole en tree dikwels op as beoordelaar vir taal- en leesontwikkelingsprojekte. Sy is getroud met Edward en hulle het twee kinders (Trudine en Edwill), skoonkinders (Kirwan en Nadine) en ’n kleinseun, Barrett. Chareldine is passievol oor Afrikaans as taal in al sy variëteite. Sy het in 2022 die Kokertoekenning vir Bemagtiging deur Afrikaans van die Afrikaanse Taalraad ontvang vir haar werk by die ATKV en in haar gemeenskap en by skole. In 2024 is sy deur Afrikaans100 benoem as een van die Top-10 Vroue met ’n Impak óp Afrikaans, deur Afrikaans.