Select Page

Só loop die storie

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R220
Eerste uitgawe, eerste druk, 2022, 130 bl.
ISBN 978-0-6397-0329-9

Die verhale van mense is so oud soos die verhaal van die mensdom. Om ons eie en ander se stories te vertel, is deel van ons bestaan en ’n poging om sin uit die lewe te maak.

In Sό loop die storie maak ons kennis met doodgewone en ongewone mense en uitsonderlike grepe uit hul lewe… gebeurtenisse wat ons verplaas na dinge wat ons al όf self beleef het, όf iemand wat ons ken – vertellings wat vir altyd sal bly voortleef.

Oor Eunice Strydom

Eunice Strydom se vroegste gewaarwording is die vrae oor die lewe wat maar altyd in haar gedagtes rondgedraai het; so ook die wete dat sy selde tevrede was met die antwoorde wat sy ontvang het. Sy het ’n meestersgraad in Maatskaplike Werk en is die afgelope jare ACVV-streekbestuurder, met ’n fokus op kinderbeskerming. Haar beroep het haar geleer om met sagte oë na mense te kyk, dat arm-wees groter maatskaplike patologie kweek, maar dat patologie nie beperk is tot ’n armoede-subkultuur nie. Haar naastes is haar twee seuns, skoondogter en jonger suster. Sy woon reeds dertig jaar op De Rust en kan steeds nie gewoond raak aan die berge wat dié dorpie omring nie. Daarom skilder sy graag, sodat sy haar liefde vir hierdie wêreld met almal kan deel.