Lyfluister
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R350 (BTW ingesluit)
Eerste uitgawe, eerste druk, 2026 – 282 bl
ISBN: 978-1-0492-3262-1
“Wat is die lewe as dit nie broos is nie, as daar nie verbrokkeling is nie, as daar nie plek vir pyn of hartseer is nie? Wat is die mens sonder ’n lyf wat onseker tas, woorde wat oor mekaar val, gevoelens wat woel? Is dit nie juis die kaleidoskoop, die polariteit, die wisselwerking van kragte, die wrywing wat die skoonheid na vore bring nie? Wat die voetwerk van die liefde is nie?”
Lyfluister broei al vir 40 jaar in Gretha van der Merwe. In haar dagboeke sedert kleintyd skryf sy oor dit wat haar tot hier gebring het, Uitdagings soos depressie, teleurstellings en angswekkende aanvalle wat aanvanklik verkeerdelik as epilepsie gediagnoseer is. Sy is deur skokterapie en Stikland. Totdat sy na haar lyf begin luister het. In hierdie boek deel sy haar reis – van spirituele ontwaking, van emosioneel volwasse word, van die taal van haar lyf wat sy moes leer vertrou – om nie net te oorleef nie, maar werklik bewustelik te leef. Lyfluister is ’n ontdekkingstog deur geloof, liefde vir die natuur, sielkunde, meditasie, joga en Oosterse filosofieë. Dit bevat die praktiese raad en oefeninge van ’n ervare afrigter vir dié wat nadink oor die lewe se grootste vrae: Wie is ek? Wat is die lewe? Wat is liefde? Wat is die Goddelike? Wat is my doel op aarde? Die antwoorde hierop ontvou soms mildelik met ’n dieper inluister na die lyf.
Gretha van der Merwe
Gretha van der Merwe werk as ’n leierskaps- en lewensafrigter reg oor die wêreld. Sy het ’n honneursgraad in Rekeningkunde en ’n meestersgraad in Sielkunde, en het die Internasionale Federasie van Afrigters se hoogste vlak verwerf as meesterafrigter (MCC-ICF). Sy bly in Kaapstad tussen die hange van Tafelberg en die see.
