Select Page

Tussen twee vure

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk: 2021, 228 bl.
ISBN 978-0-620-95191-3

In sy polisieloopbaan van 27 jaar is Sarel Francois Olivier van Dijck (oftewel Pieter van Wyk) dikwels met dié vrae gekonfronteer: Wie is ek? Waar hoort ek? Wie is reg en wie verkeerd? Dit was in die doodsnikke van die ou politieke bedeling dat hy deel was van ’n werkomgewing waar hy die spanning in die land die ergste kon voel, ’n tyd toe die oorlog op die Grens na stede en dorpe verskuif het. Hier is die eens onskuldige seuntjie van die Karoo gekonfronteer met die komplekse Suid-Afrikaanse samelewing, een waarin die woord “verbode” dekades lank sy lewe gerig het – een waarin hy as dienaar van reg en geregtigheid soms selfs uit sy eie gemeenskap verstoot is. Nou, ná soveel jare, wonder hy: Verstaan ons mekaar nie maar net al eeue lank verkeerd nie?

Oor Pieter van Wyk

Adv. Pieter van Wyk is in 1960 op die Karoodorpie Fraserburg gebore en het op Oudtshoorn gematrikuleer. Hy het van 1983 tot 1987 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Laingsburg gewerk, waarna hy eers op Oudtshoorn en daarna, in die oorgang tot ons demokrasie, vir ’n tyd lank in Soweto diens gedoen het. Hy het in 2007 met die rang van kaptein uit die polisie getree en hom daarna in die regte bekwaam, deesdae met ’n praktyk op Oudtshoorn. Hy is getroud met Marlene en hulle het twee dogters, Nareese en Nazlee.