Om die vreugdevuur: ‘n dagboek op die maat van blydskap
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R490 (BTW ingesluit)
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 1000 bl
ISBN: 978-1-0370-8999-2
Jy kán jou in hierdie lewe ooorgee aan ’n dans van blydskap om die vreugdevuur, pleks van mismoedig in sak en as te sit en murmureer. Dr. Maria van Huyssteen (1948-2024) is in haar lewe as dosent in Maatskaplike Werk in haar loopbaan, tydens haar reise en in haar interaksie met mense wat haar pad gekruis en haar lewe verryk het, blootgestel aan ’n breë verskeidenheid onderwerpe, aan talle uiteenlopende mense en hul filosofieë – aan die lewe self. Om die vreugdevuur, met sy 366 inskrywings, is ’n dagboek, dankboek, dansboek en dinkboek. Dis ’n boek vol aanhalings uit die literatuur en kosbare juwele versamel uit die heilige boeke van verskillende religieë. Hier is onvergeetlike en wyse woorde wat ondersoek, inspireer, die vonke van die vreugdevuur laat vlam en jou aanspoor om in ’n kring daarrondom te dans.
Maria van Huyssteen
Dr. Maria van Huyssteen was jare lank lektrise in Maatskaplike Werk (hoofsaaklik by die Universiteit van die Wes-Kaap, met insette by die Universiteit Kaapstad, Universiteit Stellenbosch en die Kaapse Technikon). Benewens haar studie in haar vakgebied, het sy ook verder studeer in drama. Sy het ’n honneurs- en meestersgraad aan haar alma mater, die US, verwerf, daarna ’n doktorsgraad (D.Phil in Maatskaplike Werk) aan die UWK, waar sy ook ’n tyd lank klas gegee het. Sy het haar altyd toegespits op menslike interaksie, hulpverlening en verandering. Ná haar dood in 2024 het haar twee seuns gesorg dat hierdie boek, haar lewenswerk, die lig sien.
