Select Page

Verhale uit Volstruisville

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk 2023. 204 bl.
ISBN 978-0-7961-3075-4

 

Hy het lankal opgehou om skryfwerk in kategorieë te plaas: dit is ’n essay, dit is ’n skets, dit is ’n … As jy dan moet, kan dié boek beskryf word as die kronieke van ’n beroepsoldaat wat nie vergeet waar hy vandaan kom nie, maar wat weier om in bitterheid te verval oor wat van die nuwe Suid-Afrika geword het, skryf Dana Snyman in die Voorwoord van Verhale uit Volstruisville. In baie vertellings lê die skrywer klem op die humor in situasies: die gesukkel om ’n oornagbare gastehuis te vind, die werkinge van ’n kampeerterrein aan die Weskus, die Olifantshoek-kerkkoor se moeite om noot te hou en die dag toe Lohatlha se rugbyspanne Mafikeng se reuse kafgedraf het. Dit is ook ’n joernaal van Stephan Henrico se gesinslewe en sy perspektiewe op die lewe. Hy is by uitstek ’n waarnemer – met die vaardigheid om sy ervarings in ’n lekkerleesteks te verpak.

Oor Stephan Henrico

Stephan Henrico is ’n eggenoot, pa en soldaat wat in Oudtshoorn gestasioneer is as Offisier in Bevel van die Health Centre South Coast van die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy is in Pretoria gebore, matrikuleer in Frankfort en klaar in 1993 in as nasionale dienspligtige by 1 Onderhoudseenheid, Diskobolos, Kimberley. Sy basiese opleiding en ’n juniorleierskursus doen hy by die Krygsbehoefte-dienskorpsskool op Youngsfield, Kaapstad. Daarna neem sy loopbaan hom na Pietersburg, Saldanha, Lohatlha, Lephalale en terug na Lohatlha. Die Henrico’s is sedert 2017 trotse inwoners van Oudtshoorn en die Vrye Republiek van Volstruisville. Hy is getroud met Vicky en hulle het twee kinders, Anya en Möller.