70 keer om die son
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R300
Eerste uitgawe, eerste druk, 2024 – 158 bl
ISBN: 978-0-0370-0886-3
Sy is nie die droomvrou wat in Spreuke 31 as ’n ideale skoondogter en vrou voorgehou word nie, sê die skrywer. Wat sy wél weet, is dat sy ’n geseënde vrou is wat geliefd en gelukkig is. In hierdie boek vol stories (in briefvorm) oor haar kleintyd, grootwordjare, huweliksjare en vakansies en reise saam met haar gesin, vertel Lettie van Niekerk-Nortjé – dikwels met ’n goeie skoot humor – oor kleindorpse gebruike en gewoontes, oor desjare se opvoedingsmaniere, vriendskappe, die invloed van voorgeslagte en veral oor die waarde van ’n hegte gesinslewe. Want dis hoe sy grootgeword het … geborge binne ’n hegte gesin … ’n omgee-ervaring wat sy as eggenoot en ma aan haar eie gesin kon skenk … vir haar man, Hennie, haar kinders (Kerneels, Pieter en Berta), haar skoonkinders (Annette en Brook) en veral haar twee geliefde kleinkinders, Luca en Emily. Die pragillustrasies in die boek is dié van haar seun, Pieter. 70 keer om die son is Lettie se geskenk aan haarself op haar 70ste verjaardag.
Oor Lettie van Niekerk
Lettie van Niekerk-Nortjé is die enigste dogter van Piet en Alberta van Niekerk van Bonnievale. Sy is ’n ywerige storieverteller, briefskrywer en reisiger wat verlede en hede in kleurvolle vertellings oor mense en plekke saamsnoer, wat graag haar kinders vermaak met staaltjies van toeka en hulle gereeld aan hul herkoms herinner. Op haar mylpaalverjaagsdag is sy dankbaar teenoor haar grotword- én grootmaakgesin wat sin aan haar lewe gegee het.