Select Page

Die gestaltes wat in ons aanwesig is

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R280
Eerste uitgawe, eerste druk 2024. 184 bl.
ISBN: 978-0-7961-4955-8

 

“Ek weet nou waar die liefde lê. Ek weet onse eie Christelike nasionalisme hou geen durende waarheid in nie. Ook nie die kerk se evangelie wat valse gerusstelling bied en mantel na die politieke winde draai nie. Of dit nou die Apostoliese Geloofsbelydenis of dié van Belhar is – dis klinkende metaal en luidende simbale. Ek kyk op en verdrink weer diep in die groen poele, die oë van my vrou. ’n Lewe saam. ’n Lewe met verwondering oor ons kleindogters en kleinseuns, ons eie en aangetroude kinders. Oor familie, wat groter is as enige volk- of kerksaak.” – Frik de Beer

En so skryf C Johan Bakkes oor Gestaltes: “My ma het eendag gesê niks en niemand verdwyn werklik uit jou lewe nie, want daar is altyd die onthou. Op ’n aweregse manier dra Frik de Beer se boek by tot die herinnering aan die verlede. Die republikeinse stryd, Anglo-Boereoorlog en Afrikanernasionalisme uit die vorige eeu word deur die skrywer geskets. Met fyn waarneming uit sy Wesrandse middelklas-grootwordwêreld gee hy ’n persoonlike vertolking van gebeure om hom. Tussendeur kom die pa-en-seun-verhouding ter sprake. Ook oor die taalstryd het hy iets te sê, en oor bittereinders en verraaiers in die Afrikanergeskiedenis skryf hy uit eie en familie-ervaring. Vir my was dit ’n heerlike leeservaring. Frik de Beer bevestig dat elk ’n eie persepsie van gebeure het. Daar is verskeie kante en alle kante is geldig. Die boek is besaai met humor, selfspot en egtheid.”

Oor Frik de Beer

Sedert sy aftrede in 2015 gaan Frik de Beer voort met sy gunstelingtaak as promotor van nagraadse studente in Ontwikkelingstudies. Met talle artikels en boeke op sy kerfstok het hy tydens die Covid-19-pandemie sy pen gewaag aan die skryf van hierdie memoir. Hy en sy vrou, Linda, maak graag tuin en reis tussendeur so dikwels as moontlik. Kuier saam met hul kinders en kleinkinders is vir hulle die toppunt van geluk.