Select Page

Oor Sjaka Septembir

Sjaka S. Septembir is ’n akteur, regisseur en skrywer wat al die afgelope 26 jaar gedigte en verhoogstukke skryf. Sy gedigte verskyn in publikasies soos Ons Klyntji en New Contrast. Sy jongste verhoogstukke is Staal I en Staal II wat al op kunstefeeste opgevoer is. Hy is ook die skrywer van die grafiese roman Die avonture van Bal-oog en Brommel – moord in Ixiastraat, saam met die illustreerder Swart Streep.

Die bardo van Biko April

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R290
Eerste uitgawe, eerste druk 2022, 326 bl. 
ISBN 978-0-6397-2494-2

Die bardo van Biko April is ’n eksperimentele roman vir volwassenes, met die belangrikste temas liefde en selfmoord/selfdood. Die roman lê (soms surrealisties) die innerlike bloot van die hoofkarakter, Biko April, en verweef dit met sy worsteling met depressie en sy wroeging oor verliefdheid, vriendskap en eensaamheid – ook sy groot passie: om te skryf. Dit word vertel in die styl van skrywers soos Kleinboer, Henry Miller en Charles Bukowski.

Dis die jaar 1999 en Y2K voorspel die einde van die wêreld. Biko April is sewe-en-twintig, die jaar waarin die meeste van sy helde sterf. Hy is down and out, maar is vasbeslote om die oewer van sy 28ste verjaardag te haal. Selfs sy rolmodelle in die kunstewêreld van Kaapstad verleen net beperkte bystand. Daarby is die advies van sy twee alter-ego’s, Jan Jakkals en Christiaan, nie juis betroubaar nie. Terwyl die een hom oor die afgrond van ’n ongedissiplineerde bestaan wil stoot, herinner die ander een hom voortdurend aan die beperkende reëls van sy grootwordjare. Sy pad kruis met die amper-sewentienjarige Taluna. Sy laat hom weer entoesiasties daaroor droom om “Die Groot Afrikaanse Roman” te skryf, en dit met die hulp van sy enigste ware vriend – sy groot, grys Olivetti-tikmasjien met die naam “Olifant”. Biko begin wonder of “skryf” ’n oorlog is waarvoor hy opgewasse is? Hy worstel met sy platsak bestaan, met voortdurende hongerte en oor mense wat teen hom draai en in die steek laat. Selfs sy eie ma kan hom nie verdra nie, en sy pa, wat van sy ma geskei is, se hulp en bystand is drupsgewys en sporadies – ’n werklike steunpilaar is hy allermins. Al wat hom meesleur, is Taluna se lyflikheid; maar haar buie neem hom op ’n wipplank van emosies. Hul verbintenis wissel tussen waagmoed, intensiteit, aanvaarding en verwerping. Biko besef hy sal diep moet in sy innerlike moet delf en hard moet veg om die galgstrop (wat hy voel vir hom wag) te ontwyk. Die kraaie is gretig om hom na die oorkant, na die bardo, te dra waar die ewige stilte op hom wag.