Omber
Publisher: Turksvy Publikasies
Price: R350
First edition, first print, 2024. 276 pp
ISBN 978-0-7961-9153-3
Vier vroue met hul tone net-net in die vyftigs, maar hul koppe nog stewig in die jare tagtigs. Vriende vir altyd. Maar die lewe het geheime wat hulle soos ’n spinnedraad aan die verlede vashou. Rosa, joernalis en vreemde dromer van Windhoek, die een met die mooi bene wat sweef bo die aarde en wat wens sy kon wegsweef uit haar huwelik. Brit, blonde bom van die Kaap, wat haar toevlug soek in haar werk en in seksuele misterie. Miranda, cupcake queen van Swakopmund, wat met die bratpack teen haar muur praat en ’n stryd teen kanker en haar geliefde zolle voer. Juliette, ma en verveelde huisvrou, ook van Windhoek, wat hardloop om haar kop skoon te kry en wonder of daar genoeg bakpoeier by haar huwelik gegooi is. Moes Miranda regtig ná al die jare daardie brief skryf?
Oor Lizanne Kruger
“Ek is in die Kaap gebore, maar woon sedert 1980 in Namibië – die afgelope 30 jaar op ’n plaas buite Omaruru saam met met man en twee seuns van 16 en 20. Dis hoekom ek sonvlekke het van langs die rugbyveld staan, al die verskillende rap-genres ken, weet wanneer om te lag vir Tiktok en wanneer nie, en gereeld voel soos die fool aan etenstafel as daar oor jag en visvang gepraat word. Die plaaslewe is geen bewys dat ek iets van boerdery weet nie. Dalk omdat my neus heeltyd in die boeke is? Ek het ’n finansiële besigheid, is ’n proefleser en taalredigeerder, en noem myself ook deesdae ’n blogger. Ek bied nasorgklasse en ekstra Afrikaans-klasse aan, skryf my lewe lank en sou nie tot rus kom voor ek nie my eie boek in my hand vashou en ruik nie. Vanweë my vroeëre ervaring as maatskaplike werker kon ek my kennis van mediese maatskaplike werk en trauma in dié verhaal toepas.”