Select Page

Die kubermoorde

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R300
Eerste uitgawe, eerste druk, 2024 – 230 bl
ISBN: 978-1-0370-0918-1

In die Oos-Kaap ruk ’n plaasaanval die omgewing en ontwrig die lewe van ’n jong gesin. Terselfdertyd lei ’n kuberinbraak by ’n regeringsdepartement en sabotasie by ’n elektriese opwekkingsfasiliteit tot ’n vlaag moorde in die noorde van die land. Mac, ’n rekenaarspesialis wat die kuberaanval probeer uitpluis, kom af op ’n internasionale komplot oor kernkrag en bevind hom in die middel van ’n politieke magstryd. Polisie-intimidasie dreig om sy ondersoek te ontspoor, terwyl inmenging van die Russiese Geheimediens sy persoonlike veiligheid bedreig. Sy steunpilare is Jerome, sy werkgewer en politieke beskermengel, en Sonja, sy verlore liefde by Staatsveiligheid. Hulle span saam om die komplot te ontrafel, maar Mac se kleurvolle verlede by Militêre Intelligensie en sy effens donker karakter kompliseer sy speurwerk.

Oor DeWet Bisschoff

DeWet Bisschoff (1968) van Kommetjie naby Kaapstad is in Pretoria gebore en het grootgeword op ’n plaas naby Steynsburg in die Noordoos-Kaap. Hier ontmoet hy op 14-jarige ouderdom die liefde van sy lewe, sy vrou, Miranda, aan wie hy tot vandag vasklou. Nadat hy ’n graad in rekenaarwetenskap en later ’n MBA verwerf het, werk hy as bestuurskonsultant by ’n globale konsultasiemaatskappy waar hy lid is van die senior Afrika-bestuurspan. Hy is passievol oor sy gesin, kyk baie sport, drink te veel rooiwyn, verdra enige hardekwas kat en lees onophoudelik. As ywerige voëlkyker, biltongjagter, visserman, fotograaf en Land Cruiser-eienaar spandeer hy soveel tyd as moontlik in die natuur. DeWet skryf vir ontspanning en as ’n stokperdjie.