Select Page

Koerie, Spikkel en Spoed kies koers Karoo toe

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R200
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 76 bl
ISBN: 978-1-0370-5075-6

Die verhaal van die drie wedvlugduiwe Koerie, Spikkel en Spoed is ’n storie oor sukses en mislukking, oor leierskap en die belangrikheid van goeie vriende en ondersteunende familie. Oor probeer en wéér probeer. Oor wen en verloor. Elkeen van dié drie topduiwe het unieke eienskappe: Koerie is die planmaker, Spikkel

die koershouer en Spoed die een wat maklik van taktiek kan verander om van hom ’n wenner te maak én sy eienaars en mededuiwe te help. In hierdie spannende jeugverhaal sal jy dalk jouself en jou eie wedlope en uitdagings raaklees …

Oor Susanna van der Merwe

Susanna van der Merwe is ’n storieverteller met ’n voorliefde vir verhale waarin kinders of diere ’n rol speel … “eerlike” stories, sê sy. Sy en haar man, Izak, woon naby Murraysburg in die Karoo op die plaas Badsfontein. Sy vertel graag stories vir haar tien kleinkinders: Dit is hoe die karakters Koerie, Spikkel en Spoed ontstaan het. Om elke kind volgens haar of sy persoonlikheid te hanteer en daardeur die beste in elkeen na vore te bring bly vir haar ’n groot vreugde. Koerie, Spikkel en Spoed kies koers Karoo toe is haar tweede jeugverhaal, nadat sy in 2023 met Koerie kies koers gedebuteer het.