Die laaste dae
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R300
Eerste uitgawe, eerste druk, 2024 – 246 bl
ISBN: 978-1-0370-0932-7
Elke dag van my lewe loop ek hier op hierdie grond met my kaal voete. Ek loop oor grasse en plate groen kruieplantjies waar daar goeie weiding is vir my bokke. En smiddae as die son brandhoog sit en ons is op ’n lekker plek, dan loop rus ek vir ‘’n kort siësta in ’n kol koel skarrewee onder ’n eik of ’n wildevy. Dan ruik ek die see en die kruie wat warm kry van die son: roosmaryn, vinkel, kruisement. My kop is dan naby die aarde en sy praat met my. Die laaste tyd is sy omgekrap.
Die eenvoudige bokwagter besef dat Vesuvius weer gaan uitbars. Die ander mense van Pompeii en Herculaneum leef in ontkenning totdat die onvermydelike katastrofe op 24 Oktober 79 n.C. plaasvind. In hierdie roman gee Marié Heese ‘n lewensgetroue beeld van daardie laaste dae deur die inwoners van dié twee stede self aan die woord te stel. Die leser word meegesleur deur die verskillende verhaallyne wat al hoe spannender raak soos wat die dreiging toeneem.
Oor Marié Heese
Marié Heese het aan die Universiteit van Stellenbosch en Unisa gestudeer, en aan die Akademie vir Dramakuns op Stellenbosch. Sy het kwalifikasies in staatsfilosofie, drama, opvoedkunde en Engels en het aan verskeie skole en universiteite skoolgehou en gedoseer. Marié is veral bekend as skrywer van Die uurwerk kantel, wat vir die eerste keer in 1976 verskyn en as klassieke werk herdruk is – in 2006 en weer in 2015. Benewens kinder- en jeugboeke publiseer sy drie Engelse historiese romans, onder meer The Double Crown wat bekroon word met die Statebondsprys vir beste boek in Afrika in 2010. Haar roman oor die keiserin Theodora van Bisantium, The Colour of Power, is in Turks vertaal. Die opvolgroman is getitel A Triple-headed Serpent. Daarna skep sy die eerste prehistoriese roman in Afrikaans, Vuurklip. Haar roman oor die vormingsjare van die kunstenaar Gianlorenzo Bernini, met die titel Maestro, verskyn in 2016. Tydens die Covid-inperking skryf sy ’n allegoriese vertelling, Die troebadoer. Sy skryf ook verskeie kortverhale wat in versamelbundels opgeneem word. Haar bundel haikoes wat in 1997 by Unisa verskyn, word in 2014 heruitgegee, en die moontlikheid van vertalings in Duits en Japannees word tans ondersoek.