Select Page

Die leiwater van Swellendam

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk, 2022. 130 bl.
ISBN 978-0-6397-0329-9

Sedert Swellendam se ontstaan was leivore vir watervoorsiening onontbeerlik. Water was nodig vir menslike gebruik, vir diere en vir besproeiing. Almal het kleinhoewes gehad en was selfversorgend deur vrugte, groente en graan te verbou. Aanvanklik is die bouwerk met klei en klip gedoen, maar later is roustene gebruik en in die laaste eeu stene wat in steenoonde gebrand is. Steengroewe was afhanklik van water om die klei te brei en graan moes gemaal word. Verskeie soorte meulens is gebruik, maar grootmaat-maalwerk is met watermeulens gedoen wat op strategiese plekke met goeie watervoorsiening opgerig is. Met die uitbreiding en verbetering van vervoermetodes het meer en meer kossoorte hul verskyning op winkelrakke gemaak. Dit het gelei tot ’n afskaling van tuinbou, en dit weer tot die onderverdeling van erwe. Gesuiwerde water is toenemend deur geslote stelsels aan woonhuise voorsien, wat leivore grootliks in onbruik laat verval het. Hierdie boek beskryf die geskiedenis van die leivore in en om die dorp. Die samestellers hoop dit gee ’n stukkie van die romantiek weer van vervloë dae.