Select Page

Juan en die bidsprinkaan

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R200
Eerste uitgawe, eerste druk, 2021, 35 bl.
ISBN-0-620-97260-4

 

Die tweeling Juan en Lienke woon op een van die mooiste stranddorpies aan die Weskus van Suid-Afrika waar hulle elke dag kennis maak met die siklusse van die natuur – nie net die see nie, maar ook die diertjies wat in hul tuin woon. Op ’n dag ontdek Juan een van die mooiste insekte tussen die plante wat hy nog ooit gesien het – ’n bidsprinkaan wat hy Annelien noem. Hy besluit om haar as ’n troeteldier in ’n hokkie aan te hou. Later vang hy vir haar ’n maatjie wat hy Marius doop. Maar niks wat Juan vir dié twee beplan het, werk uit nie: Die natuur laat hom nie voorskryf nie, leer hy. 

’n Boek vir kinders (en hul ouers) oor omgee, liefde, begrip, hartseer en verlies, aanvaarding en hoop. En oor omgewingsmagte waarvan ons as mense deel vorm.

Oor Thana de Clerk

Thana de Clerk (1967) is ’n bedryfsielkundige en lewensafrigter wie se liefde vir haar broerskinders die inspirasie was vir Juan en die bidsprinkaan. Dit is haar eerste kinderboek en is gebaseer op die ware verhaal van die verhouding tussen ’n seuntjie en sy lieflingstroeteldier. Thana word groot in Durbanville, naby Kaapstad, waar sy ook matrikuleer. Ná skool studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch en in 1991 voltooi sy haar meestersgraad in Bedryfsielkunde. In 2003 verwerf sy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg. Thana woon tans op Stellenbosch en Prins Albert saam met haar lewensmaat, Marius Scholtz.

Oor Jan Vermeiren

Jan Vermeiren is gebore op 5 Oktober 1949 in ‘n dorpie geleё tussen Antwerpen en Gent. Hy studeer aan die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten in Mechelen en Antwerpen tussen 1966 en 1972, waarna hy ‘n jaar in Belgrado, Joego-Slawiё studeer. Jan studeer vir ‘n verdere jaar in grafiese kuns aan die Nationaal Hoger Instituut voor Beeldende Kunsten in Antwerpen. Hy vestig hom in Kaapstad en maak oor die afgelope 45 jaar ‘n waardevolle bydrae met sy Vlaamse inslag in ‘n Afrika milieu.