Die lewe se lekker lesse
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R220
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 126 bl
ISBN: 978-1-0492-0176-4
Die lewe se lekker lesse is allesbehalwe ’n les-boek vir die leser. Hierdie bundel, deur die rubriekskrywer Hennie Barnard, is ’n versameling verhale oor onvergeetlike gebeurtenisse wat hy oor ’n tydperk van meer as veertig jaar beleef het. Dit word nou, met die perspektief van terugskouing, kleurvol oorvertel. ’n Beleë mensekennis, skerp waarnemingsvermoë en die talent om ervarings in woorde om te tower, is die perfekte bestanddele om dit ook ’n lekkerleesboek te maak.
Oor Hennie Barnard
Hennie Barnard is ’n oud-Rustenburger. Ná matriek, as deel van nasionale diensplig, doen hy ’n jaar lange juniorleierskursus by die Infanterieskool voordat hy by 32 Bataljon aansluit. Ná afloop van sy studie in beheerstelsels werk hy twee jaar lank vir Siemens en elf jaar vir Eskom, voordat hy sy eie onderneming begin. In 1999 verwerf hy ’n doktorsgraad in tegnologie: elektriese ingenieurswese. Hy was tot sy onlangse uittrede aan die spits van beide EEU Personeel, ’n tegniese werwingsagentskap, en EEU Taltronics, ’n maatskappy wat 24/7-beheerkamers ontwerp en met videomure toerus. Hy en sy vrou, Trix, woon op Heroldsbaai. Hul dogter, Ryna, is ook ’n ingenieur. In sy vrye tyd skryf hy graag rubrieke en stories.
