Select Page

Tussen ons

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R220
Eerste uitgawe, eerste druk, 2021. 136 bl.
ISBN 978-0-620-90465-0

In dié bundel kortverhale kyk die skrywer na die daaglikse interaksie tussen die enkeling en sy omgewing. Alles gebeur tussen ons: tussen man en vrou, ouer en kind, jou en ’n vreemdeling, slim en dom, ryk en arm. Of tussen jou en die noodlot, die boosheid en die tyd. Tussen ons is daar herinneringe, emosies, verwyte, hartseer en gruwel. Die verhale praat oor die dinge van gister, vandag en môre, oor mense en menswees. Oor die kompleksiteite in ons samelewing. Want niemand is ’n eiland nie. Vir alles is daar redes en gevolge. Stories is nie nét mooi of nét lelik nie. Niemand is nét goed of nét sleg nie.

Oor Coen Basson

Coen Basson is in die Kammanassie-distrik naby Uniondale gebore. Nadat hy hier gematrikuleer het, verwerf hy ’n BA (Hons) aan die Universiteit van die Vrystaat en word ’n onderwyser, met ’n voorliefde vir geskiedenis en tale. Ná ’n aantal jare in die onderwys gaan boer hy op hulle familieplaas in die Kammanassie en was jare lank ’n finansiële adviseur op Oudtshoorn. Sedert sy skooldae het Coen ’n liefde vir lees en skryf en was op universiteit joernalis en redakteur van die studentekoerant, Irawa. Coen het in ’n huis van stories grootgeword, met ’n ma en pa wat bobaas storievertellers was. Hy het vir etlike jare reisartikels vir Die Burger geskryf en dikwels sy eie ervaringe as 4×4-toeroperateur in Suid-Afrika en die buurlande vir sy artikels gebruik. Hy spits hom deesdae toe op die skryf van fiksie en is ’n gereelde deelnemer aan die landwye skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar hy al eervolle vermeldings verdien het. Twee van sy kortverhale is ook onderskeidelik in 2017 en 2021 gekeur vir opname in die US Woordfees se jaarlikse Woordfeesbundel. In 2021 is een van sy verhale as die weninskrywing aangewys.