Select Page

Die langste jaar

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 72 bl
ISBN: 978-1-0370-9069-1

Op die oog af beskryf Muller Minnaar die saai bestaan van ’n staatsamptenaar, op soek na sin en die liefde. Sy skerp waarnemingsvermoë maak van sy buitestanderskap ’n deug. Die leser sien en voel saam met hom. Die digter verhef middelmatigheid tot poëtiese suiwerheid en meerwaarde.

hy klim van die bus af
stap bult-op na sy kamer
in die agterplaas van iemand se huis
hy sluit sy kamer oop
sit die rekenaar aan op my musiek
luister na iemand uit amerika
wat sing oor verlore wees
hy sit kos op die stoof
hy bad eet skeer
trek ’n nuwe jean aan
stap stadig na die hotel om die hoek 

Oor Muller Minnaar

Muller Minnaar (1967) is gebore in Kimberley, maar het grootgeword in Sishen – ’n myndorpie in die Noord-Kaap. Hy matrikuleer aan Sishen Hoërskool, gaan studeer by die UOVS, maar verwerf nie ’n graad nie. Daarna sluit hy permanent by die weermag aan en werk vir agtien jaar in Potchefstroom en Pretoria. In 2022 AWOL hy en is tans nog op vrye voet. Hy woon nou in Bloemfontein waar hy groente plant en bier drink.