Select Page

Ella se droom

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R200.00
Eerste uitgawe, eerste druk, 27 bl
ISBN: 978-0-7961-1517-1

 

Ella se nuwe skooljaar begin glad nie goed nie … nie net moet sy na ’n nuwe skool op ’n nuwe dorp gaan nie, maar voel sy vreemd tussen al die nuwe kinders, is sy skaam omdat sy ’n bril dra en word sy gespot omdat sy mal is oor boeke. Gelukkig kry sy ’n baie gawe juffrou én ’n oulike maatjie wat alles sommer beter maak. Boonop sluit sy aan by die dorpsbiblioteek waar sy die beste idee ooit kry om die kinders in haar straat, haar klasmaats en sommer die hele skool lief te maak vir lees. Sy wys hulle dat daar tussen die bladsye van boeke ’n nuwe wêreld wag om ontdek te word en dat elke kind ’n spesiale talent het wat hom of haar uniek maak.

Oor Heleen Maass

Heleen Maass en haar gesin woon vir die afgelope agt jaar op Tulbagh. In 2007 verwerf sy ’n B.Ed-graad en vir die afgelope vier jaar leef sy haar passie as leerondersteuningsopvoeder uit, wat haar in staat stel om leerders te onderrig wat akademiese agterstande het. Haar onderwyservaring bewys aan haar dat kinders wat nie genoeg blootstelling aan boeke kry vanaf ’n jong ouderdom nie waarskynlik deur swak taalontwikkeling en ’n beperkte woordeskat benadeel sal word – daarom is boeke van kardinale belang tydens vroeë-kind-ontwikkeling. Haar eie liefde vir skryf, poësie en boeke was vanaf ’n jong ouderdom deel van haar lewe. Dit bly vir haar ’n groot gawe en voorreg om met kinders te kan werk en hierdie liefde vir lees aan hulle oor te dra.