Liewe Ma … briewe uit my weermagdae
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R320 (BTW ingesluit)
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 436 bl
ISBN: 978-1-0370-9473-6
Liewe Ma … is die briefwisseling tussen die skrywer en sy ma, Coby, in die jaar 1974 toe Pierre ’n dienspligtige in die Suid-Afrikaanse Weermag was. Coby spreek haar kommer oor haar seun se welstand uit, vertel hom van gebeure in hul tuisdorp, die Paarl, en hy vertel haar van sy lewe as jong soldaat en sy verlange huis toe. Dekades lank het ma en seun hierdie kosbare briewe afsonderlik in skoendose bewaar – onwetend van mekaar. Dis eers toe Coby se boksie ná haar dood in 1999 ontdek is, dat Pierre hul briewe in volgorde kon rangskik om die verhaal van een jaar in hul lewe chronologies te vertel. Dié boek is egter meer as net ’n vertelling van die gesin Louw se wel en wee … dit neem lesers terug na ’n byna vergete tyd in ons samelewing en landsgeskiedenis, toe seuns binne maande mans moes word. Die publikasie van hierdie onthouboek het saamgeval met wat vanjaar Coby se 100ste verjaardag sou wees.
Pierre Louw
Pierre Louw is 1954 in die Paarl gebore. Dié oud-Boishaaier is ná skool vir sy militêre diensplig na 7
S.A.I. te Bourke’s Luck naby Graskop, Mpumalanga. Dit is afgesluit met drie maande diens op die grens tussen Namibië en Angola. Ná opleiding aan die Saasveld-bosboukollege op George het hy vir die Departement van Bosbou en as tuinboukundige vir die Kaapse stadsraad gewerk. In 1982 het hy sy skoonpa se plaas in die Cederberg naby Clanwilliam gekoop. Hy boer steeds daar. Pierre is, in sy eie woorde, al 43 jaar gelukkig getroud. Hy het twee pragtige dogters, twee goeie skoonseuns en ses dierbare kleinkinders.
