Select Page

Die lewe is ‘n plek

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk 2024. 210 bl.
ISBN: 978-0-7961-5627-3

 

Alles gebeur iewers, en “iewers” het die naam “plek”. Byna sonder uitsondering is daar ’n noue interaksie tussen plek, karakters en gedrag. Die een beïnvloed die ander, en die verband tussen mense se persoonlikhede, hul optrede en die ruimte waar hulle hulle bevind, skakel altyd ineen. Dis hierdie gegewe wat soos ’n goue draad deur Die lewe is ’n plek, Estelle Brits se debuutbundel kortverhale, loop. Ons leer ken die jong vrou wat haar ma in ’n plakkershuisie versorg, die rykmansvrou wat ’n hotel as basis vir ontvlugting benut, die bejaarde man wat op soek is na sy plasie van weleer, die ouma wie se woonstel as ’n adres vir donker dinge dien, die alkoholis wat nie kan ontsnap van die huis van haar jeug nie, die alleenvrou langs wie daar skielik ’n leë sitplek op ’n vliegtuig ontstaan, die huishulp wat haar volwaardige, gerespekteerde plek in die lewe ontdek … 

In hierdie bundel ontmoet lesers karakters wat aan hulle bekend sal wees … maar die kans is goed dat hulle plek-plek hulself sal herken.

Oor Estelle Brits

“Ek is ’n boekwurm. ’n Mens van woorde. Ek lees verskriklik baie, maar wou nog altyd graag skryf. Op die ouderdom van twaalf het die tienertydskrif tina my R5 betaal vir ’n verhaal wat ek ingestuur het. My kinders het gespot met my, omdat ek altyd gesê het dat ek ’n brief gaan skryf wanneer ek ontevrede was met diens, of net my opinie oor iets wou gee. Uiteindelik kon ek anoniem briewe skryf op SêNet en het jare lank ’n LitNet-blog gehad onder die titel “Vega en Kathuter”. Daardeur het ek heelwat skrywers ontmoet en het ek altyd geweet ek gaan nog eendag ’n boek skryf. Daar is te veel stories in my kop vir die tyd tot my beskikking, want ek is ’n ma, ouma en besigheidseienaar wat nog skilder ook. By die Klein-Karoo Skryfforum het ek kortverhale begin skryf en een van my verhale is in die Woordfeesbundel 2023 opgeneem. Ek glo dat kreatiwiteit ’n vaardigheid is wat elke mens kan aanleer en dat enige skeppende werk ’n verlengstuk van God se skepping is.”Estelle Brits