Select Page

Wysbegeerte

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250
Eerste uitgawe, eerste druk April 2022, 118 bl.
ISBN  978-0-620-99922-9

Die liefde is ’n gekompliseerde gedoente. Dis die draer van geluk en ongeluk, vervulling en teleurstelling, selfvertroue en onsekerheid. Wysbegeerte laat ons nuut oor dié allesoorheersende emosie dink: Is ons soms nie maar net verlief op die liefde nie? Selfs bang daarvoor? Is dit nie vooropgestelde perspektiewe wat baiemaal die liefde verniel nie? Pleeg ons nie partykeer die sewe hoofsondes in ons soeke na selfaktualisering nie, en dit deur liefdesverhoudings? Want die liefde verg onpretensieuse denke. Ook moed, want jy kan dit ook verloor … somtyds deur verwerping, somtyds deur jou rug te draai op iemand wat jy weet jou gaan vernietig.

Oor Sanet Taljaard

Sanet Taljaard is vakhoof vir Dramatiese Kunste aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, waar sy ook Afrikaans gee. Haar kaalvoetjare lê om ’n sandsteenhuis op ’n plaas naby Bethlehem in die Oos-Vrystaat. Sy het haar BA Drama (Hons.) en HOD aan Kovsies verwerf. Kreatiewe projekte word deel van haar lewe toe sy Kaap toe getrek het, vertel sy. Terwyl sy deeltyds klasgegee het by die Kaapse Skiereilandse Technikon op Wellington, het sy ’n dramaskool saam met haar dogter, Alma, bedryf, en ʼn paar ondeunde flitsverhale in Sarie gepubliseer, in Woordfees-produksies opgetree en wyn geproe. “Jeanne Goosen sê sy skryf omdat niks anders in haar lewe uitwerk nie. Ek voel ook soms so. Maar terselfdertyd laat skryf my léwe.”