Select Page

Oor Martin Kruger

Martin Kruger (1957) is ’n argitek, urbanis en kunstenaar wat in Kaapstad woon. Hy skryf al ’n geruime tyd gedigte, meestal vir homself. Hy lees dan die gedigte vir sy hond en sy geliefde en stuur dit per e-pos vir sy vriende en familie. Een van sy gedigte is opgeneem in die pandemiebloemlesing Maskers en mure (Turksvy, 2021).

Gekaapte stad

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Eerste uitgawe, eerste druk 2023. 84 bl.
Prys: R300
ISBN: 978-0-7961-1421-1

 

As argitek is Martin Kruger ’n takseerder van stede. In ’n eiesoortig digterlike taal gee hy sy indrukke van onder meer Kaapstad, Amsterdam, Parys, Barcelona, Venesië en New York. Almal is in ’n sekere sin gekaapte stede – deur kapitaliste, politici, ontwikkelaars en uiteraard ook argitekte. Hy toon besondere empatie met stedelike weeskinders – veral van Kaapstad, die sogenaamde Moederstad. Die bloudruk vir hierdie bundel is Italo Calvino se Le città invisibili (“Die onsigbare stede”). Gelukkig bied stede ook ruimte vir huislikheid en die liefde, dinge wat nie met die eerste oogopslag sigbaar is nie.

Beste Amsterdam 

as dit reent, gragnat

en die wind jou sambreel laat flikflak

dan tier ek teen jou ou mure

hou my afrikaanse asem op vir jou taal

 

jou vriendelike blomme, kleurvol getooi

jou blinkswart geboue

wat sonder skroom die krulgewels

van kaapshollands naboots

 

miskien teen die vyftiende eeu

was instagram die tekenmooi soeweniers

van dapper kunstenaars, verkenners, reisigers

en derglik noodsaaklike raconteurs