Select Page

Bitter daisies

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R225
Eerste uitgawe, eerste druk: 2021. 127 bl.
ISBN 978-0-620-96337-4

Bitter daisies is nie net nóg ’n kortverhaalbundel nie. Die verhale speel af in die Bokveld waar ’n kind soos ’n blouvalk oor die waterval vlieg, by Koeboes in die Richtersveld waar halfmense soos soldate teen die kliprant staan, in ’n Kaapse blommemark, op die Franse platteland en in Wulai by Ruby se Kafee waar blou eksters soos straatkatte skree. Met haar unieke skryfstyl vervleg die skrywer vernuftig die kom en gaan van karakters wat afsonderlik, maar tog verweefd in die verhale hul verskyning maak. Fantasie en werklikheid raak dikwels verstrengel, soos waar ’n winkelier in ’n kruiwa op die stoep sit, ’n bokboer met groot witbokke boer en ’n vrou met ’n geelslang by ’n soetwaterfontein dans terwyl ’n ander ’n baba tussen possakke optel en grootmaak. Die titelverhaal, “Bitter Daisies”, is as die wenverhaal in die US-Woordfees se 2020-kortverhaalbundel, Aanhou beweeg en geraas maak, aangewys.

Oor Marie Toerien

Marie Toerien het haar kinderjare in die Bokveld in ’n winkelhuis op die oewer van die Groenrivier deurgebring. Sy was omring met trommels boeke en twaalf Maine Coon-katte. Haar passie, sê sy, is mense- en diereregte, die ontheemdes, blouvalke, basters, skilderbokke, afvlerke, haweloses en skandemakers … en dat mense altyd ’n keuse het. Vakansies word in Formosa in Xindian by haar dogters deurgebring, in Guangguan se katkafees, Ximending se nagmark en in Wulai op die Nanshirivier “waar mangobome warm riviere vashou”. Sy woon in die Paarl “in ou akkerbome en op koel somerstoepe waar katte op hul eie skaduwees slaap”.