Select Page

Kategismus

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R300
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025 – 155 bl
ISBN: 978-1-0370-4213-3

Tesourus
begin by die lemma heelal
lys alle semanties verwante
woorde en eindig by mikrosel

daar het jy dan die samehang
en sin waarna matematici
en filosowe al so lank verlang

want wat jy kwalik meer kan tel
word kosmies en sekuur in
die spinnerak van taal vasgevang

’n Kategismus is die samevatting van ’n godsdiens se leerstellinge wat in die vorm van vrae en antwoorde aangegebied word. Die Heidelbergse Kategismus van 1563 is een van die belydenisskrifte van die Protestantse Christendom. Die eerste vraag lui soos volg: Wat is jou enigste troos in die lewe en in sterwe? Die antwoord is: Jesus Christus, die Woord van God wat vlees geword het op die aarde. In sy digbundel met die titel Kategismus probeer Daniel Hugo dié vraag op sý manier beantwoord. Wat die lewe vir hom draaglik maak en troos verskaf, is die digkuns – die woord met ’n kleinletter. In sy gedigte besing hy aardse dinge: die liefde, die natuur en die werk van ander digters wat die lewe vir hom sinvol maak. Hy doen dit met sy kenmerkende woordpresisie en tegniese vakmanskap.

Oor Daniel Hugo

Die digter, vertaler en bloemleser Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek waar sy pa ’n predikant was. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein, en verwerf ’n doktorsgraad oor die vernufspoësie. Nadat hy ’n jaar lank onderwys gegee het in Windhoek, word hy ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1983 studeer hy aan die Katholieke Universiteit van Leuven in België. Daarna was hy ’n omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK, waar hy verantwoordelik was vir die literêre programme. Daar het reeds 17 digbundels uit sy pen verskyn. Hy ontvang die ATKV-Woordveertjie vir sy digbundel Klinkklaar. Vir sy vertaalwerk uit Nederlands is hy reeds twee keer deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Hy is getroud met die joernalis en uitgewer Marlene Malan.