Select Page

lugspieëling

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R350
Eerste uitgawe, eerste druk 2024. 110 bl.
ISBN: 978-0-7961-4996-1

 

Maletta Fourie is ’n fyn waarnemer – van plante en diere, van haar medemens, haar naastes en haar geliefdes. In haar gedigte verbeeld sy haar interaksie met gebeure, mense en die natuur, maar ook met dit wat in haar eie psige afspeel. Sy bepeins die verlede, die vreugdevolle sowel as hartseer ervarings, en sy verwonder haar oor die toekoms. Wat haar digkuns so aantreklik maak, is haar humorsin wat plek-plek deurskemer, dat sy haarself nooit in ’n te ernstige lig beskou nie.

by benadering 

ek verwonder my
aan ’n by
wat op fyn stingeltjies
wipplank ry
of is dit die stingel
wat van vreugde dans
weens hierdie
oorlewingskans

Oor Maletta Fourie

Maletta Fourie (1942) is gebore en het grootgeword op ’n plaas in die Carnarvon-distrik, met die Groot-Karoo se vlaktes en ruimte om haar. Sy studeer kuns aan die Universiteit van Kaapstad en daarna mode-ontwerp. Sy was eers getroud met Pierre Swart en ná sy dood met die dramaturg Pieter Fourie. Skilder en skryf is haar passie.