Select Page

Deur haar venster

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R220
Eerste uitgawe, eerste druk. 2021. 149 bl.
ISBN 978-0-620-90464-3

Dié bundel kortverhale beskryf die veelvlakkigheid van die samelewing uit die perspektief van vroue. Die temas wissel van ’n gewapende aanval op ’n gesin saam met hul vriende by die huis, selfdood, droogte, ’n gesinsmoord, ’n gewelddadige kind en die laaste omblikke van ’n bejaarde tot ’n sensuele Turkse bad. Die leser kyk na doodgewone alledaagse gebeure tot ingrypende voorvalle deur die oë van vroue – maar dit beteken allermins dat die verhale slegs vir vroue geskryf is.

Oor Maretha van der Westhuysen

Maretha van der Westhuysen woon op ’n plaas buite Oudtshoorn. Sy het in ’n huis met boeke grootgeword, en deur haar skoolloopbaan in sewe verskillende skole was lees en skryf die konstantes wat tot haar studie in tale aan die Universiteit van die Vrystaat gelei het. Voordat sy getroud is en voltyds boervrou geword het, was sy onderwyseres by Paarl Gimnasium. Hoewel sy voltyds ma van ’n dogter en tweelingseuns is, deesdae ook ouma van vyf kleinkinders, het die skryfgogga altyd bly knaag en in 2010 teken sy die geskiedenis van haar kerk op in die boek ’n Eeu van genade: Eeufeesbundel van die NG Gemeente Herold. As ywerige en leergierige lid van die Klein-Karoo Skryfforum lewer sy maandeliks kortverhale en skryf ook in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfkompetisie. In 2017 is haar verhaal “Woestynvrou” as wenner in die afdeling vir ongepubliseerde skrywers aangewys. Nog ’n kortverhaal, “’n Ander lewe”, word in 2018 in die bundel kortverhale van die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees opgeneem.