Select Page

Digkunsmaand in die Kaap

Deel hierdie artikel:

Sewe Turksvy-digters tree in September en Oktober op by drie geleenthede: Die Tuin van Digters op Wellington (13 en 14 September), Verse in die Vallei op Riebeek-Kasteel (29 September) en by die US Toyota Woordfees op Stellenbosch (1 Oktober en 2 Oktober).

By die gewilde jaarlikse Tuin van Digters op Wellington tree Hennie Nortjé op met Noord van Malelane, Rudolph Willemse met swartland, Andries de Beer met Aalmoes vir die bootman en Rocco de Villiers met Die eiesoortiges. Op Riebeek-Kasteel, deesdae ’n sentrum vir digkuns, tree Kobus Grobler op met Raamwerk; en by die US Toyota Woordfees op Stellenbosch is Martin Kruger (Gekaapte stad) en Maritha Broschk (wanneer woorde asemhaal) op die verhoog met hul debuutdigbundels.

TUIN VAN DIGTERS: Breytenbachsentrum, Wellington
Saterdag 14 September

  • 10:00 – 10:45: ’n Harde en donker plek: Rudolph Willemse (swartland) in gesprek met Daniel Hugo oor Rudolph se derde digbundel – dit handel nie net oor Swartland as plek nie, maar ook oor die ruimte in sy kop, sê Willemse.
  • 11:00 – 11:55: Digters praat saam: Hennie Nortjé (Noord van Malelane) en nog twee digters in gesprek met die poësiekenner en digter prof Bernard Odendaal. Hennie dig oor diere … maar sien opvallende ooreenkomste tussen menslike en dierlike gedrag.
  • 12:00 – 12:45: Rafel, woord-en-klank-tapyt: Andries de Beer (Aalmoes vir die bootman) saam met Kristi Boonzaaier en Norra Marris. “Rafel” is ‘n poësie-musiek-produksie wat as ‘n tapyt van woord en klank gespin is. Hierdie unieke vertoning kombineer die rou, fyn uitgewerkte verse uit Andries de Beer se bundel Aalmoes vir die bootman, die verfynde musikale komposisies van Kristi Boonzaaier en die dramatiese stem van Norra Marris. Deur poësie en musiek naatloos te verweef, skep “Rafel” n ryk, emosionele ervaring wat die gehoor dieper laat delf in temas van verbondenheid en verlies.
  • 15:00 – 15:45: Die befaamde en gewilde pianis Rocco de Villiers skuif agter die klawers en en lees ook voor uit sy debuutdigbundel, Die eiesoortiges

VERSE IN DIE VALLEI, DIE KO-OP, RIEBEEK-KASTEEL – 11:30

Kobus Grobler lees voor uit en gesels oor sy debuutdigbundel, Raamwerk.

Die digter probeer in sy verse mense se lewens raam – dié van glanspersoonlikhede,verskoppelinge, familie, sy eie – en in woordportrette vasvang. Dit is sy enigste verweer teen die onkeerbare gang van die tyd. Hy kyk met ’n skerp kamera-oog na die wêreld én na die digwerk van sy voorgangers. Meermale word die erns verlig deur ’n flitsende humorsin.

 Jy wens jy kon tyd in sy sandloper keer –
te gou het ’n leeftyd deur die gleuf geglip

US TOYOTA WOORDFEES, STELLENBOSCH 

1 Oktober, 13:00 – US Museum-anneks: Drie digters debuteer tesame:
Martin Kruger (Gekaapte stad) lees voor uit sy debuutdigbundel en tree in gesprek met Bibi Slippers, Alwyn Roux en Jaco Barnard-Naudé.

 2 Oktober, 14:00 – Spier Manor House: Wat jy nie weet jy weet nie.
 Maritha Broschk (wanneer woorde asemhaal) en die digter Martina Klopper tree in gesprek oor hul debuutdigbundels.