Select Page

Vier Turksvy-digters skitter by Tuin van Digters

Deel hierdie artikel:

Op Vrydag 13 en Saterdag 14 September 2024 het die jaarlike byeenkoms van digters en musikante by die Breytenbachsentrum op Wellington plaasgevind. Dié geleentheid draai altyd om Breyten Breytenbach se verjaarsdag op 16 September. Die sentrum is gehuisves in sy ouers se losieshuis, oftewel “bordinghuis”, waarin Breyten grootgeword het. ’n Groot aantrekkingskrag is die pragtige tuin met tentoongestelde digterswoorde.

Saterdagoggend om 10:00 het die eerste Turksvy-digter opgetree in ’n tent vol poësieliefhebbers. Rudolph Willemse van Riebeek-Kasteel is deur Daniel Hugo uitgevra oor sy bundel swartland.  Die gedigte handel nie net oor die Swartland as geografiese plek nie, maar ook oor Willemse se “kopruimte”. Hy het op Riebeek-Kasteel gaan aftree ná ’n regsloopbaan in die korporatiewe wêreld. Enersyds ervaar hy sy omgewing as ’n paradys, maar andersyds ook as “’n harde en donker plek”. “Kunslied” is die kortste gedig in die bundel, waarmee die digter sonder omhaal van woorde sê dat selfs ’n donker plek opgevrolik kan word deur die natuur en die kuns:

                              die janfrederik

                              het een oggend

                              hier opgedaag

                              en vir ons gesing.

Getoonsette gedigte is ook ’n vorm van die kunslied, en dit is wat die feesgangers kon beleef tydens Andries de Beer se opvoering, getitel “Rafel: ’n woord-en-klank-tapyt”. Van die gedigte in sy bundel aalmoes vir die bootman is getoonset deur Kristi Boonzaaier en gesing deur Norra Marris. Tussendeur het Andries sy gedigte op ’n meevoerende wyse voorgedra. Die programnota sê met reg: “Deur poësie en musiek naatloos te verweef, skep ‘Rafel’ ’n ryk emosionele ervaring wat die gehoor dieper laat delf in temas van verbondenheid en verlies.” De Beer is ook ’n visuele kunstenaar en sy volkleurillustrasies vorm ’n integrale deel van sy bundel, wat as punkpoësie getipeer word.

Rocco de Villiers is al die Suid-Afrikaanse Liberace genoem. Benewens virtuose pianis en komponis is hy ook ’n digter van die bundel Die eiesoortiges. Hy het op die verhoog verskyn met ’n blinkerbaadjie en ’n kortbroek, waarmee hy die dekadensie van die kunswêreld met die aardsheid van sy Vrystaatsie agtergrond wonderbaarlik laat balanseer. Saam met hom op die verhoog was die kitaarspeler Hansie Roodt wat vir ’n groot verrassing gesorg het. Hy het naamlik sy eie toonsetting van Rocco se gedig “Nader as die liefde” gesing. Hier is een strofe van die gedig wat ’n onvergeetlike lied geword het:

                              Nader, my hart

                              Aan my hart is jy

                              Nader as die bloekom aan die blaar

                              Nader as die rooi aan die papawer

                              Nader as die viol aan die snaar

                              Nader as my vinger aan die klawer.

Rocco het ook gedigte uit die bundel voorgelees, staaltjies vertel en onnabootsbaar energiek die klawers bespeel. So iets het die Tuin van Digters nog nooit beleef nie!

Die vierde Turksvy-digter, die dubbelbekroonde Hennie Nortjé, het saam met twee ander opgetree: André le Roux en Jaco Barnard-Naudé. Die gespreksleier was prof. Bernard Odendaal. Hennie se bundel, Noord van Malelane, bevat gedigte oor die Kruger-wildrtuin en is met pragtige lynsketse deur sy seun, Pieter, geïllustreer. Hennie se humorsin het uit sy gevatte antwoorde gestraal. Hy is ’n fyn waarnemer en optekenaar van die natuur, soos duidelik blyk uit die gedig “Minor kills”:

                              Daar hang ’n blouvalk

                              hoog bo die Laeveld.

                              En dan ná die duikslag

                              word ’n streepmuis

                              of iets dergelik onbenullig

                              slegs hier in my gedig

                              aangeteken as vermis.

Met vier digters op die program was Turksvy vanjaar die bes verteenwoordigde uitgewer by die Tuin van Digters. ’n Ware triomf!