Breyten Breytenbach: ’n huldeblyk
Deel hierdie artikel:
Deur Daniel Hugo
“’n Seismograaf wat skokgolwe deur die samelewing en letterkundige gemeenskap kon stuur …” Dit is die openingsin van Netwerk24 se berig oor die afsterwe van Breyten Breytenbach in Parys op 24 November 2024. Ek kan my indink hoedat Breyten – meester van die metafoor en woordspel – hom oor dié stukkie taalslordigheid sou verkneukel het. ’n Seismograaf meet skokgolwe, veroorsaak dit beslis nie.
As tsoenamiese digter en vulkaniese persoonlikheid het Breyten wel deeglik skokgolwe deur mý lewe gestuur.
In 1975 het ek vir die eerste keer behoorlik met Breyten se poësie kennis gemaak toe D.J. Opperman sy debuutbundel van 1964, die ysterkoei moet sweet, met ons derdejaarsklas op Stellenbosch behandel het. Ek is gou-gou oorrompel deur Breyten se onkeerbare woordestroom, tuimeling van beelde en aweregse blik op die wêreld.

