Grenslyn
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R260
Eerste uitgawe, eerste druk, 2024. 164 bl.
ISBN 978-0-7961-9154-0
Grenslyn bied episodes uit die lewensverhaal van ’n anonieme ek-verteller, Vroumens … oor haar huwelike, ook haar traumatiese kinderdae weens haar pa se alkoholisme en oor haar gevolglike depressie. As volwassene word sy gediagnoseer met grensgeval-persoonlikheidsteuring wat die konteks skep waarin die hoofkarakter se weergawe van gebeure verstaan moet word. Dit bied ’n sleutel tot haar gedrewe lewenshouding: Sy noem haarself ’n dom waaghals wat holderstebolder betrokke raak by situasies wat die adrenalien voluit pomp. Haar humorsin, weiering tot selfbejammering en liefde vir perde is egter haar oorlewingsmeganismes.
“Die perde wys my die Suiderkruis wanneer die winter my hart van depressie wil laat toeryp, en die Drie Konings in die somer wanneer die sweet van angsaanvalle my lakens wit van salpeter los. Hulle herinner my daaraan dat die hier en nou al is wat saak maak. Hulle leer my om tjoepstil te staan wanneer die blitse wil piets en die wolke lawaai en die reëndruppels soos haelkoeëls op my kop val. Om dan die vrede te midde van die storm te soek.” – uit: Grenslyn
Oor Jana Fourie
Jana Fourie (1978), oorspronklik van Vereeniging en Vivo, staan aan die stuur van nagraadse koshuis-aangeleenthede aan die Universiteit van Pretoria. In 2008 begin sy met ’n BA in Kreatiewe Skryfwerk en gedurende die praktiese opdragte ontdek sy die lekkerte van die Afrikaanse skryfkuns. Deesdae woon sy in die noorde van Pretoria op ’n kleinhoewe saam met haar man, Ettienne, twee kinders (twee het reeds die huis verlaat) en baie diere.
