Select Page

Woordvernuf waarin die allerdaagse verhef word tot iets besonders

Deel hierdie artikel:

Die digter Kobus Grobler (Raamwerk, Turksvy 2023) resenseer Maritha Broschk se digbundel, wanneer woorde asemhaal.

Ek het onlangs die bundel, wanneer woorde asemhaal, gelees en was beïndruk deur Broschk se vernuftige omgang met woorde. Vir haar is woorde “dit wat lewe skep en bevry,” word die allerdaagse ervarings van verlange en verlies besweer en omgetower tot iets moois. Die bundel bestaan uit sewe afdelings met ‘n reeks temas, soos geboorte, siekte, dood, geweld, kuns en verlange. Die gedig, Droom (p.30) is ’n voorbeeld van besonderse woordspel.

kom sypel deur my ooglede, Ma/ beset die grysstofnes/ soos ’n piet-my-vrou

Die digter wend dít wat skilders en komponiste bied om haar woorde skoonheid en klank te gee. ’n Hoogtepunt is die gedig Edvard Munch se The Scream (1893) (p. 39)

ontgogeld deur toondowe rûe, die klad/ van ’n universele gewete wegdobberend/ spookmond gerond, wit asem gepuur/ soos uitroeptekens: voor én na die tinnitus-gil 

In swanesang (p. 56) bring die digter hulde aan die balletdanser, Gisela.

jy maak jou buiging, keer op keer, in rehab,/ plié oor ’n urienstokkie, jou pupille swart gate in die kollig//

die opsigter kry jou in jou flat in Sunnyside/ met rigor mortis-tone gepunt en onverbind/

vingers steeds ongekrul – allongé! en ek dink Gisela wat na Giselle/ klink

Die digter toon waagmoed om te dig oor wat ander nie sou waag nie. In die titelgedig, wanneer woorde asemhaal (p.63) word treffende beelde gebruik om juis dit te sê:

as die mond ’n kerker was/ sou ’n magdom woordsbeendere/ op die tong bly lê

Hierdie digter is nie bang om te skryf oor dit wat ons nie durf sê nie, inteendeel sy pak die “onverwoordbare” aan en met buitengewone vernuf en grasie. Mag Maritha Broschk ons nog lank verras met versreëls soos die volgende in finale (65):

’n laaste toegif/ van klikkelose pedale/ en klanklose applous van die klavier/ verder vismotte pars en/ stil-stil ophou asemhaal 

Kobus Grobler, Raamwerk: 2023