Select Page

Die Afrikaanse poësie en die Grensoorlog

Deel hierdie artikel:

Die uitgerekte, vyftien jaar lange Grensoorlog het ook in die Afrikaanse digkuns neerslag gevind, skryf Daniel Hugo:

Twee oorlogsgedigte deur pa en seun

Vyf-en-dertig jaar gelede is die Grensoorlog beëindig. Op 21 Maart 1990 het Namibië ’n soewereine staat geword, met die bevrydingsorganisasie, Swapo, as die regerende party. Dié oorlog het vyftien jaar geduur en duisende Suid-Afrikaanse dienspligtiges en staandemaglede het daaraan deelgeneem. Dit was ’n uitgerekte trauma wat onvermydelik ook neerslag gevind het in die Afrikaanse digkuns.

Ek dink byvoorbeeld aan George Weideman se meesleurende “Herinneringe van die teruggekeerde soldaat” waarin beelde van Ovamboland in die noorde van Namibië opgeroep word. Dié gedig is in 1987 gepubliseer in sy bundel Uit hierdie grys verblyf. Die oorlog was toe nog in volle gang. Hier is ’n paar reëls uit die gedig:

dit sal e nie lig vergeet nie: hoe soos ruspers
die pantserwaens jong bome verorber en casspirs
soos vuilgroen sprinkane verslindend aanswerm

Weideman het sy gedig in 1988 in Stockholm voorgedra tydens ’n ontmoeting met die Swapo-leierskap aldaar. Hy vertel dat die meeste Swapo-lede hulle met die gedig kon identifiseer, omdat hulle Afrikaans magtig was.

Een van die merkwaardigste verse oor die Grensoorlog is geskryf deur Peter Louw. Dit is te vinde in sy enigste digbundel, Tantalus, wat in 1989 verskyn het. Die trefkrag van die gedig lê in sy bondigheid. Daar word veel meer gesuggereer as wat uitgespel word. Die titel is “Patrollie” en dit handel oor ’n klein groepie soldate wat die grens tussen die destydse Suidwes-Afrika en Angola patrolleer. Hulle bevind hul op ’n droë soutpan:

Vier soldate loop in die pan.
Dis wit, en word witter;
batterye raak stom.
Akkedisse kyk op;
helikopter draai om. 

Die soldate verkeer klaarblyklik in nood en het per radio hulp gevra. Voordat die helikopter hulle kan bereik, raak die batterye van hul enigste kommunikasiemiddel pap, en die helikopter draai om. Die soektog word dus afgelas en die soldate aan hul lot oorgelaat. Die ironie is dat die helikopter hulle amper bereik het. Dit was so naby dat die akkedisse wel iets gewaar het.

Die dreigende gevaar wat hier so kripties verwoord word, bevat eggo’s van ’n gedig deur N.P. van Wyk Louw – Peter se pa. Van Wyk Louw se vers speel tydens die Tweede Wêreldoorlog af en staan in sy bundel Tristia van 1962. Dié bundel is opgedra aan Peter en sy suster Reinet. Die titellose gedig handel oor ’n oorlogsvlugteling:

Van die vlugtelingekamp
was niks meer te sien nie:
onder die wit sink-dak
van die somerhitte: ’n masjien:

oor die dowwe wit glansende
vlakte kom daar padda-padda-spring-aan
die padda-groen tenks aan
reg op hom af aan.

In plaas van die soutpan is hier sprake van ’n “wit glansende vlakte”. Die vlakte is as ’t ware ’n weerspieëling van die lug: “die wit sink-dak / van die somerhitte”, wat anders as die vlugtelingekamp geen beskerming bied nie. Die reddende helikopter – ook ’n oorlogsmasjien – is nou die dodelike tenks wat meedoënloos na die eensame vlugteling aankom. Die dreiging word beklemtoon deur die herhaling – drie maal – van die woord “aan”. Die padda-metafoor vir die groen tenks word in Peter Louw se gedig getransformeer tot werklike akkedisse. (Dit is interessant dan Weideman ook diermetafore vir pantservoertuie gebruik: ruspers en sprinkane.)

Die bloedverwantskap tussen die Louw-digters kry in hierdie twee spieëlgedigte glansend ’n literêre gestalte. Dit is dubbel merkwaardig.

Netwerk24, 23 Junie 2025