Select Page

’n Dawerende handeklap vir dié bundel

Deel hierdie artikel:

Caren Kearley se debuutbundel, Dawerende Stiltes (2025), neem al vir ’n geruime tyd ’n ereplek op my bedkassie in. Hierdie bundel dien as bewys dat toeganklike digkuns nie ’n gebrek aan gehalte veronderstel nie. Die bundel bestaan uit vier afdelings waarin o.a. skrywerskap, die natuur, ontgogeling en die liefde aan die bod kom. Opvallend is Kearley se treffende beeldspraak: “die nag blaf met sy bar stem” (24); “terwyl ek die son se strale deur my hare trek” (36); “die wingerde staan nog kaalgat hier in die Swartland / winter klou met haar koue vingers aan my lyf”(75).

Nes die titel voorspel, word daar van die oksimoron (teenstrydige begrippe) gebruik gemaak om belewenis – waaronder innerlike worsteling rondom maatskaplike kwessies en die dualistiese aard van kunstenaarskap; die “dans tussen ons gode en ons demone” (15) – weer te gee. In die besondere knap “Jagter” word die skrywer as jagter van woorde uitgebeeld. Tog is die skrywer self ’n slagoffer van haar uitsette wanneer die leser (insluitend die literêre kritikus) die finale oordeel vel: sy sluip nader met haar pen / sinsnedes in visier / knal haar woorde teen wit papier / uitasem sleep sy die gestolde karkas / tot net duskant kopiereg / en los dit daar vir die aasvoëls” (28).

Kearley snap die onderliggende musikaliteit van die digkuns: Sy toon ’n ritmiese en gemaklike omgang met woorde wat bedrieglik eenvoudig voorkom, maar nie maklik is om te bemeester nie.

’n Gebondenheid aan die natuur tree sterk na vore. As oud-Namibiër toon die digter ’n verknogtheid aan landskappe wat metafories ingespan word om as spieëlbeeld van innerlike belewenisse in te tree: “ek ken ook die voetpad vanaf Sonop tot Mariental / en ‘n half-hart wat kierie-loop / tussen die kalkklip / saam met korhaan en koringkrieke (79).  

Buiten haar debuut is Kearley se werk al in verskeie versamelbundels opgeneem waaronder Maskers en Mure (2021) en Merang (2025). Sy wen pryse met van haar gedigte, onder meer by INK Skryf in Afrikaans en Afrikaans.com. Kearley het ook onlangs ’n vyfde plek in Avbob se jaarlikse nasionale poësiekompetisie behaal.

Dawerende Stiltes is die ideale geskenk vir diegene van ons met ’n liefde vir woorde; gestroop van pretensie en aanstellerigheid. Dit is gedigte wat op liriese wyse spreek tot die universele belewenis van liefde, verlies, skoonheid en kwesbaarheid. ’n Bundel wat jy kan lees binne die omhelsing van stilte; hetsy in die geborgenheid van ’n hangmat, die bosveld, hoog op in die berge of bloot in jou agtertuin.

Ten slotte, ’n liefdesvers wat deur die veelbekroonde digter Daniel Hugo bestempel word as die mooiste liefdesgedig wat hy die afgelope vyf jaar gelees het. Ek stem saam.

Belewenis

ek weet waar skoenlappers slaap
ek het ook al ’n mantis sien bid
gelees hoe naaldekokers oorleef
gesien hoe ’n volmaan agter skadu’s wegkruip
weerliggelaaide wolke hoor donder
ek het al sterre sien verskiet

gekyk hoe ’n baba vir die eerste keer asemhaal
en hoe ’n mens haar laaste asem uitblaas
myself uit ’n doodskleed geworstel
ek het gevoel hoe branders my intrek
terwyl ek wieg in hul eb en vloed

ek weet hoe klam Karoo-grond ruik
ná die eerste langverwagte reën
ek was al op heilige plekke
waar ’n godheid my oorval het
ek het ook al op kranse gesit
waar witkruisarende nesmaak

maar vanoggend toe ek in jou arms wakker word
het ek geweet
as alles om my vergaan
was ek ook hier

– Maritha Broschk

Caren Kearley
Foto: Lara Scott

Maritha Brosck
Foto: Marlene Malan